Liefdesverhale

‘n Jetski vir twee

(LAPA UITGEWERS) Publikasiedatum 2025

 

Met haar prokureur se hulp, vind Lizzy met ‘n nuwe identiteit, ‘n toevlug op ‘n plaas by die see. Daar versorg sy die visserhuisies en bly naweke in die eienaar, Reuben, se huis terwyl hy in Mauritius is.

 Alles gaan goed tot Reuben een nag onverwags opdaag en Lizzy hom vir ‘n inbreker aansien en haarself verdedig.

 Reuben is kalm, ondersteunend en dierbaar. Hy maak haar deurmekaar, al sê hy, hy wil ook nooit trou nie. Gaan haar hart dié keer selfs seerder kry as voorheen?

'n Trekker vir twee

(LAPA UITGEWERS) Publikasiedatum 2024

 

Ansone wou nog altyd boer en nou gaan daardie droom bewaarheid word.  Haar oorlede oom Simon het sy plaas aan haar bemaak en sy is reeds verlief op daardie pragtige stuk grond: Die rondawel, die oopte, die mooiste berge.

Hoekom is Milner, daardie omgesukkelde boer, dan so teen haar planne gekant?

Sy sal haar nié deur hom van stryk laat bring nie, nie eens wanneer die noodlot haar in sy opstal laat beland nie …

'n Motorfiets vir Twee

(LAPA UITGEWERS) Publikasiedatum 2023

Katja voel reeds gemaklik met haar plekkie op die rak. Haar lewe is ongekompliseerd en gevestig tot sy Xavier en sy seuntjie ontmoet. Xavier is haar nuwe bevelvoerder en hopeloos te aantreklik in sy uniform.

Katja voel hoe ‘n onsigbare band tussen haarself en Xavier begin vorm, want hul albei dra littekens van die verlede. Haar lewe word verder omver gegooi deur ‘n versoek van maatskaplike dienste dat haar biologiese familie haar graag wil opspoor. Dis presies wat sy haarself nog altyd voorgeneem het om nooit ooit te doen nie.

Alles voel oorweldigend, en om haar wegholskoene aan te trek klink na die beste oplossing. Maar wat as twee gebreekte harte saam geluk kan vind? Kan ou wonde behandel en genees word? Is dit tyd om kanse te waag?

‘n Fiets vir twee

(LAPA UITGEWERS) Publikasiedatum 2021

Terwyl sy met dwalende gedagtes na die fiets-expo trap, beland Benita amper onder Melt se sportmotor. Daar aangekom, val sy flou in die stalletjie wat Melt bestuur.

Die oomblik toe hy haar skraal lyfie op die mat sien lê, kruip Benita diep in Melt se hart sonder dat hy dit besef. Hy wil berge vir haar versit, veral wanneer hy besef watter opdraande die lewe haar gee.

Maar ten spyte van haar omstandighede is Benita ’n meisie met ’n wil van haar eie. Hy meng sonder verskoning in haar lewe in, tot haar groot ergernis en frustrasie. Haar lewe is moeilik genoeg sonder nog iemand wat dit kom omkrap. Met drie weke oor voor sy op straat beland, doen Benita haar bes om staande te bly. Intussen probeer Melt juis om haar van haar voete af te swiep.

Toe vind ek jou

(LAPA UITGEWERS) Publikasiedatum 2019

Olivia is vasbeslote om haar biologiese pa te ontmoet, maar haar nuwe bestuurder, Jean-Luc, is hinderlik aantreklik en trek haar aandag af. Maar sy vind vinnig uit dat die liefde jou nooit op ‘n dwaalspoor lei nie.

Liefde tussen die duine

(LAPA UITGEWERS) Publikasiedatum 2018

Salome veg al tien jaar teen haar begeerte om huis toe te gaan, maar nou dwing haar pa se beroerte haar terug. Tien jaar is ’n lank tyd, dink Salome. Lank genoeg om die aantreklike Morné te vergeet − maar die hart volg nie tyd nie.

Hart se tweede kans

(NB UITGEWERS) Publikasiedatum 2017

Toe suster Wida Storm hoor dat dokter Eugene Maritz iemand benodig om sy bejaarde ma tuis te versorg, gryp sy die geleentheid aan. Sy wil lankal haar eie tuisverplegingpraktyk begin en dié werk sal haar die nodige ondervinding gee. Maar Wida kom gou agter dat als in dié familie nie pluis is nie toe sy saam met tannie Olga in Eugene se huis intrek om haar te versorg. Watse hartseer lê in Eugene se verlede? Waarom is daar ’n stremming op sy verhouding met sy ma? Hoekom skerm tannie Olga vir haar ander seun terwyl Eugene niks met sy broer te doen wil hê nie? Met die eerste oogopslag is Eugene stroef en afsydig, maar Wida besef toenemend dat dit ’n front is wat die aantreklike en gevoelvolle dokter voorhou – ’n verskansing teen die verraad en verlies wat hy beleef het. Sy is besig om haar hart onkeerbaar op hom te verloor, maar sal sy ooit die mure wat hy om hom gebou het, kan afbreek? Sal Eugene ooit weer ’n vrou in sy hart toelaat?

Ondersoek my hart

(NB UITGEWERS) Publikasiedatum 2015

Sedert die dood van haar ma aan kanker, toe Madelie Botma nog maar ’n kind was, het sy ’n vrees vir dokters en hospitale. Toe dokter Ian Duvenhage by haar klaskamer inbars om sy broerskind, Handré, te ondersoek, is juffrou Botma dus hewig ontsteld.
Dit blyk dat Handré tydelik by sy oom bly omdat daar komplikasies met sy ma se swangerskap is, maar die man weet duidelik minder as niks van kinders en Madelie moet teësinnig ingryp.
Sal die aantreklike Ian haar skanse kan afbreek en haar help om haar vrese te oorkom? Daar is immers ’n nuwe kankerpasiëntjie in haar lewe, haar kunsstudent Sanet, wat Madelie se bystand nodig het.
Maar dan daag ’n ou liefde van Ian op en begin aantygings maak . . .